Webjoernaal

Ek is Afrikaans!

Ek lees nou die dag ‘n artikel op News 24, geskryf deur Clem Sunter, getiteld: “The Economic Liberation of the Afrikaners”. Daarin maak hy die volgende stelling: “I was told the other day that the fastest growing element of the Johannesburg Stock Exchange are companies owned and run by Afrikaners.”

Ek weet dit gaan nou vreemd klink, maar ek onthou toe skielik dat ek Afrikaans is - ja, ek is ook ‘n Afrikaner! Die ding is, dat ek, soos meeste van ons seker maar, meestal in Engels werk en dit so gereeld praat, dat ons amper nie aan onsself dink as Afrikaans nie.

Tydens my kinderjare was ons bure oorkant ons Engels. Ons was goeie vriende met hulle en Engels praat was dus nooit vreemd vir my nie. In my matriekjaar woon ek ‘n winterskool by en ontwikkel ‘n vriendskap met ‘n Ier; wie omtrent nie een woord Afrikaans kon praat nie. Hy was my eerste “bewuste” Engelse vriend en deur hom het ek baie vertroue in my eie Engels ontwikkel. Ek sal nooit vergeet dat ek een aand oor die foon vir hom gesê het: “My girlfriend and I made out.” Hy het baie opgewonde gereageer, totdat ek besef het dat hy nie verstaan wat ek bedoel het nie. Ons het inderdaad uitgemaak en nie die “dirty dance” gedans, soos hy gedink het nie. Dit is ‘n goeie voorbeeld van “lost in translation.”

Op 27 begin ek ‘n Engelse liefdesvehouding, wat die volgende amper 17 jaar duur. My vriende het spesiaal, in die dae voor die internet amper, gaan opsoek hoeveel Afrikaanse vrouens en kinders in Engelse konsentrasiekampe omgekom het, om dit voor my kop te gooi om die diepte van my verraad te onderstreep. Ek spot nou nog dat ek my Afrikanerskap in daardie jare weggevry het.

Dit is ook in daardie tyd dat ons die politieke omskakeling ondergaan het en Afrikaans nie eintelik die “politieke korrekte en mees gewilde” taal was nie. (Ironies dat dit oor die 20 jaar later weer so pertinent sy kop by ons Universiteite uitsteek.) Ek het defnitief onder die druk geswik en my Afrikaner skuldgevoel agter die Engelse verhouding-masker weggesteek. In 1995 kry ek egter ‘n werk as ‘n Portefeulje Bestuurder, by ‘n suiwer Engelse Finansiële Bestuur-maatskappy, bloot omdat ek Afrikaans is. Die teenskrydigheid is skreiend. Nie?

Ek verklaar myself Engels en begin tot my naam met ‘n “y” aan die einde spel om meer Ingels (soos die oumense sou sê) voor te kom.

My partner voel skuldig oor my kulturele ommekeer en probeer my teruglok na my wortels toe deur vir my Afrikaanse CDs te koop - die grootste gemors deur die kommenste Afrikaanse kunstenaars stapel ongeluister in die CD rak op.

Nadat die verhouding ‘n sluipmoordsnelle dood gesterf het, vind ek my in niemandsland. Stadig begin ek weer uitgaan en druk my spreekwoordelike toon in nuwe sosiale kringe en maak so ‘n nuwe Engelse platoniese vriend. Ek skryf smsse en e-poste en teken af as Freddy en hy skryf terug en noem my Freddie. Eendag vererg ek my en vra hoekom hy kwansuis my naam met ‘n “ie” spel. Sy antwoord: “Because you are Afrikaans and need to get in touch with the truth of your existence.” Sjoe.

So besef ek dat dit tyd is om die Engelse masker af te haal, my Afrikaner skuldlas soos ‘n swaar mantel neer te lê en die waarheid vierkantig in die oë te kyk. Ek is Afrikaans.

Kort daarna begin ek Berading deur Unisa swot en alles is Engels. Ek doen my prakties in Engels en skielik is alle werksbegrippe nuut en Engels. Ek kwalifiseer en begin my dienste bemark en maak ‘n werbwerf - in Engels. Dit is eers toe ek Clem Sunter se artikel lees dat dit tot my deurdring dat ek weer my Afrikanerdom vir ‘n appel en ‘n ei gaan staan en verkoop het.

Vandag stel ek met Afrikanertrots my Afrikaans-inkorporerende webwerf bekend en stel myself breebors voor: “Hallo, my naam is Freddie. Ek is ‘n Sielkundige Berader. Hoe kan ek help?”

WE ARE DECENT FOLK, WE DON'T TALK ABOUT IT
THE BIG BLOCK, BEARS AND LISTENING